Rusteloos sit ek en staar na nog ‘n produk
van die kits-satisfaksie nasie...
Buite is dit nat en bedompig soos my handoek
wat vuil or my stoel hang, seesand orals. My bruigebrande hande bewe na
gisteraand se uitgelate gekarjakker saam met die wat ek nog kan verda. Slukkies
swart koffie en ‘n beskuit wat al begin sag word pamperlang my deur hierdie
oggend wat ruik soos gister se sonroom-sweet.
Ek maak my oë toe en prober die naarheid
terug hou: ons was saam op ‘n uitkyk punt, ek het jou laat skrik. ‘N frons wat vir
my waarsku en ek wat speels, nog ‘n keer oor die reling hang. Ek terg jou want
jy is deel van wie ek is, jy is die deel wat ek soms wegsteek vir die
afskuwelike hordes. Mense orals, ‘n mengelmoes van klanke, reuke, kleure wat my
bombardeer. Tog voel ek veilig as ek saam met jou is. My ander ek.
Ons het langs ‘n rivier gesit en ek het vir
jou skaduwee gemaak. Elke nou en dan is ek jou skaduwee as jy bedrywig raak en
ek half nutteloos om jou woel, jou aandag soek. As ek moeg is deel ek my stilte
met jou. Ek vat jou op uitstappies, neem jou saam orals waar ek kan, maar soms
moet ek jou agter laat, soms moet ek afskeid neem.
Tog
bly jy by my, jou klein skelm, jy!
Ek soek jou erkenning, en deel jou geluk. ‘N
spannetjie ons, ek en jy. Jy gee my die dryfkrag om my oë oop te hou as die
middag lank word, of die mense my irreteer. Laatnag of vroegoggend, jy maak
altyd jou deur oop as ek bedremmeld kom klop en vir water vra, lafenis vir ‘n
jeugdige siel wat in sy domheid nie brieke kon aandraai nie.
Daars ‘n holte in my bors waar jy soms kom
skuil, jy wegkruip as die wêreld jou elke tree teister. Saam sit ons twee en
deel ‘n koppie tee, ek met my sigaret. Die vuil lug hang om ons in die laatmiddag
terwyl voëls en karre saam sing en ek nog ‘n waansinnige droom aan jou verkoop en
jy dit sonder betaling by my vat en koester soos ‘n kosbare besitting...
Ek betrap jou soms erens in ‘n hoekie deur
die dag, onverwags maak jy jou tevoorskyning. ‘N glimlag tref my tussen my ore
en ek giggel sommer van opgewondenheid. Jy sluip aan die buitewyke van my drome
rond en stel my gerus as ek in ‘n koue sweet uistlaan en na asem snak,
beddegoed op die vloer.
Met moeite staan ek op, die skerm blêr
nogsteeds sy propaganda. My koffie is koud en die beskuit is op die vloer. Ek
kyk om my rond en besef jy is weg, soos ‘n hammerslag tref dit my: ek dra jou
waarokal ek gaan, want jy is my muse...